Die Krugers van Petrusburg en Boshof

Welcome to Die Krugers van Petrusburg en Boshof

Hierdie skepping van die Kruger-webtuiste sou ek baie moeilik sonder die sagteware en hulp van MyHeritage.com kon gedoen het en kosteloos voortgaan daarmee.  Vir enige persoon wat sy/haar familie-geskiedenis wil navors, is MyHeritage.com 'n absolute noodsaaklikheid.  My verhaal oor hierdie spesifieke Krugers handel grotendeels oor my eie herinneringe (as kind van Izak Kruger) aan hierdie stoere familie wat ook hulle deel van smart en swaarkry in die lewe ondervind het, maar wat tog deur die woestyn gekom het en vir hulle nageslag 'n plekkie in die son verseker het.  Daarbenewens is daar ook heelwat mooi gedagtes oor die plaas BELGRAVIA waar die grondslag van die "Krugers van Boshof" gevestig was.Links bo is die vier hoekpilare van die eertydse Kruger-vesting op BELGRAVIA, naamlik die vier Kruger broers: LOUWRENCE, IZAK, PHILIP en GIDEON.Weens die noue verbintenis van ons Kruger-voorgeslagte met die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902, sluit ek dus ook 'n paar feite in hieroor.  Feitlik al hierdie Krugers is brandarm gelaat deur die oorlog en party het hul lewens opgeoffer vir die behoud van die boererepubliek in die Vrystaat sonder die juk van Brittanje op hul skouers. Nogtans was hierdie net 'n mooi droom wat ons voorvaders en vele ander Suid-Afrikaners duur te staan sou kom.  Op die keper beskou, het dit alles oor goud en diamante gegaan.  Die aantal vrouens en kinders wat ook in hierdie tyd in die konsentrasiekampe omgekom het, was hierdie ideaal geensins werd nie.  Ons Krugervoorsate het nie die geweld vrygespring nie. Voorts het die Britse magte in hulle opmars vanuit die destydse Kaapkolonie via Kimberley, Paardeberg, Koedoesrant, Poplar Grove, Driefontein op pad na Bloemfontein 'n bloedspoor nagelaat wat nooit uitgewis sal word nie, maar in die annale van die geskiedenis verewig sal bly. Die slag van Paardeberg by Vendutiedrift was maar enkele kilometers vanaf Belgravia, die familieplaas van die Krugers, waarna die Britse magte in alle waarskynlikheid in hul duisende oor Belgravia na Koedoesrant beweeg het.  Verder aan by Driefontein, was dit die familieplaas van oumagrootjie Krüger, waar sy as kind grootgeword het voor haar troue met Oupa Grootjie, wat afgebrand en verwoes was, voort op hul  pad na Bloemfontein.  Daarom is dit deel van die Krugers van Petrusburg en Boshof se geskiedenis.  'n Swart geskiedenis.  Want die oorlog en al die gruwels wat daarmee saamgeval het, was rampspoedig vir ons Krugers. Tog het die wie die dood vrygespring het, weer opgestaan en voortgegaan, maar toe as Britse onderdane.  Ons moet egter trots wees op hulle.Ek hoop van harte dat besoekers aan hierdie webblad dit net soveel sal geniet as wat ek dit geniet het om dit saam te stel. Dit is nog nie klaar nie, want ek werk nog altyd daaraan om dit te verbeter en meer nuuswaardig te maak.  Dit sal inderwaarheid nooit klaar word nie, want elke dag gebeur daar iets met elke familielid wat dalk nuuswaardig en interessant is. Nuwe aankomelinge wat gebore word.  Ander wat aan die dood afgestaan word.  Help my asseblief om die geskiedenis op datum te hou.  Sonder julle samewerking kan en sal dit nooit kan gebeur nie.  Ek vra nie veel nie. Laat ons dus tog iets oor hierdie geskiedenis nalaat aan die afstammelinge wat nog gaan kom, want dalk is daar tog maar 'n paar van hulle wat dit sal waardeer.  Kontak my dus asseblief indien daar enige navrae is en/of daar enige verdere inligting en/of foto's is wat hierdie verhaal verder kan versterk en interessant maak.  Hou die webtuiste gereeld dop om op hoogte te bly van al die nuwe verwikkelinge, byvoegings en uitbreidings in die familiegeskiedenis wat tot dusver strek oor ses geslagte en die stamboom wat begin in 1816 tot die hede, en die hede groei mos nog elke dag. Dit wat hier is, is ons eie. My posadres is Posbus 11875, Aston Manor, 1630 en my e-posadres is jan@midranddairy.com .  Alternatiewelik, skakel my by 011 391 0187 of op my selnommer by 083 258 4259.  Hierdie tuiste is laas opgedateer op 2 Januarie 2015 en het 'n aansienlike aantal geregistreerde lede. Ongelukkig beskik nie al die betrokkenes oor internet en e-posadresse nie wat die aantal geregistreerde lede baie beperk, wat ek werklik betreur.  Hopelik sal dit later van tyd verbeter. Geniet dit!   My allerbeste wense aan al hierdie KRUGER-nasate.  Baie dankie ook vir jou besoek aan die webblad.  Ek hoop en vertrou jy sal dit interessant vind.  Groete.   Jan Lourens 

Recent activity