Aankoms by Bredell.
Dit was in die jaar 1962 Ek was in standerd vier, in die laaste kwartaal omtrent.
Die huis in Bredell het blykbaar lank leeg gestaan en was baie verwaarloos. Ek dink pa en van die ouer broers het nog vensterruite ingesit voor ons daarnatoe getrek het.
Plot 308 was op n hoek met die Hattings van Bapsfontein oorkant ons aan die voorkant van die huis. Onder ons na die teerpad toe het die Dercksens gebly. Sal later vertel van Bettie Dercksen.
Regs oor die straat was n klein ou huisie waar daar vele mense gebly het. Later het daar mense kom bly met n ou wat n baie groot vriend van my geword het. Agter ons was n erf vol vrugtebome met n klein huisie heel onder in die plot. Langs diè plot het Sarie van Oubaas se Pa en Ma gebly. Reguit verby ons huis vir ongeveer vier of vyf plotte het Britt Kruger en sy familie gebly. Britt soos julle weet is met Sus Nattie getroud.
Die plot op Bredell is eintlik waar ek grootgeword het en waarvan ek kan onthou. Die meeste van Pa en Ma se kinders is vanaf die plot getrou. Vanaf Oubaas en Sarie tot Tonnie en Antonette. Broer Johan en sus Maryna is op die plot gebore.
Daar is een staaltjie wat ek vaagweg kan onthou net toe ons by Bredell ingetrek het. Ek wou dit met Haia bevestig maar sy kon dit nie onthou nie. Moet die ouderdom wees. he he
Die watertenk wat die huis toe van water voorsien het het regs langs die huis gestaan. Die tenk het gelek en die gras het welig om die tenk gestaan.
As n mens by die agterste kamer se venster uitkyk het jy reg in die groot watertenk vasgekyk. In die aande was dit pikdonker want daar is nie so iets soos straatligte nie.
Blykbaar het die huis vir lank leeg gestaan voor ons daar ingetrek het. Van die vensters was gebreek en ook die plate van die stoof was weg.
Daar was n gerug in die omgewing dat dit daar by die huis spook.
Die agterste kamer is deur die ouer meisies betrek en natuurlik is die gordyne dig toegetrek in die aande. Een van hulle, ek weet nie of dit Haia of Nattie was nie het n geluid by die watertenk gehoor so asof iemand oor die grond gesleep word. Hulle loer toe by die gordyne uit en sien n wit gedaante stadig rondom die tenk beweeg.
Hulle spring toe terug in die bed en trek die komberse oor hule koppe. Die volgende dag is almal vertel van die spook. Ons seuns het dit natuurlik nie geglo nie en wag toe die volgende aand om die spook te vang.
So teen laatnag hoor ons toe die geluide net soos dit beskryf is en sien ook die wit gedaante in die flou maanlig beweeg. Die seuns gaan toe stadig dapper vorentoe, maar ook gereed om spore te maak as dit nou rerig n spook is.
Toe ons nader kom, ek het agter my groter broers geskuil, sien ons die frieskoei van een van die bure wat rustig al die lekker groen gras om die lekkende watertenk verslind.
Ons het natuurlik die meisies verskriklik geterg hieroor. Geen wonder hulle kan niks onthou nie.
Vir die wat nie weet nie lys ek gou die kinders in volgorde van oud na jonk. Ouboet (Cas), Oubaas (Piet), Haia (Marie), Nattie (Nattie), Pikkie ( Pikkie), Tonnie (Martiens), Babba (Piet), Willie ( Willie), Sussie ( Petro), Theo , Johan en Maryna.
Die plot se garage was aleenstaande met n buitekamer en n kole kamer. Die kole kamer is waar die steenkool vir die koolstoof geberg was. Die KoleKoelie het gereeld een keer per maand met sy lorrie omgekom en dan sakke kole van sy trok in die kolekamer gegooi. In die winter het sy werkers n konka brandgemaak op die oop trok om warm te bly as hulle aflewer.
Ek onthou dat ek eendag in standerd vyf, nie skool toe wou gaan nie. Ek het in die kolekamer weggekruip totdat ek die skoolbus gemis het. Net toe ek uitkom, kom Ma om die hoek en vang my. Na n deftige pak slae het Ma my koolbesmeerde gesig afgevee en my toe beveel om skool toe te loop. Dit is so 5 kilometers.
Toe ek by die skool kom vertel ek vir my onnie, Mnr.Swart, n liegstorie oor my laatkommery. Hy vat my toe onmiddelik kantoor toe en gee my n paar houe met die rottang omdat ek vir hom lieg. Ongelukkig het ma die skool gebel en vir hulle vertel wat ek gedoen het.
Dit is die laaste keer dat ek ooit skool probeer bank het. Twee keer pak gekry vir dieselfde ding!!
In elk geval- Agter die garage en buitekamer was daar drie of vier reuse moerbeibome. Die bome het moerbeie gedra so groot soos n groot man se middelvinger.
Groot en sappig. En natuurlik pers.
Dit was ons kinders se lekkerny in die seisoentyd. n Mens kon ook net so tien of wat eet dan is jy nou rerig versadig (Dik). Die probleem was as jy van die sap op jou klere kry. Dit was nie uit nie, en ma was al die klere.
Behoewe jou as sy pers vlekke op jou wit skoolhemp kry! Jou gat het dan pers strepe gehad nadat sy jou beet gehad het.
Gelukkig het ons later geleer dat jy n groen, nog nie ryp moerbei moet vat en dit op die pers vlek smeer. Dit is die enigste manier om die vlek uit te kry, maar jy moet dit onmiddelik doen voor die pers droog word.
Ek het daar vir ure in n mik gesit, drie meter van die grond af met n kussing onder my gat, en boeke gelees. Ek was absoluut verslaaf aan boeke en kon n boek binne n dag deurlees. Daardie dae was die seunsboeke soos Trompie en die Uile die beste ding uit. Later het ek die afrikaanse reeksboeke soos Ruiter in Swart, Oloff die seerower, Rooi Jan en andere gelees. Ek was elke dag met pouse by die skool se biblioteek om boeke om te ruil.
Plot 308 Bredell is seker die plek waar ons toe die langste nog gebly het. Ons het koeistalle gebou. Varkhokke gebou. Hoenderhokke gebou. Kakhuise gebou. Watertenkstellasies gebou. Druiweprieële gebou en die plot leefbaar gemaak.
Ons was arm en Pa-hulle het nie baie geld gehad nie. Dit was oraait, want ons kinders het nie geweet dat ons arm was nie. Ek kan nooit onthou dat ons ooit honger gaan slaap het nie. Ons was te selfversorgend en het vanaf die plot geleef. Dit het natuurlik goeie organisasie geverg en Ma het alles met n ysterhand regeer met Pa wat op sy sagte manier net so effektief was.
Almal het hulle pligte gehad om die huishouding so glad as moontlik te laat loop.
Natuurlik was daar altyd een of twee wat probeer lyf wegsteek het. Tonnie en Pikkie het altyd oor Babba gekla.( Babba was ma se selferkende witbroodjie) Hulle moes die boontjieland skoffel na skool.
Pa het hulle deel elke dag afgemeet en dan elke and kom check of hulle dit gedoen het. Blykbaar (volgens Tonnie) het Babba sodra hy moeg raak, moeilikheid met hom en Pikkie gesoek totdat hulle hom foeter.
Babba het dan huis toe gehardloop en by ma simpatie gesoek wat hy natuurlik geweet het hy gaan kry. Ma het hom dan teen sy “boelie” broers beskerm en by die huis gehou. Dan moes Pikkie en Tonnie ook Babba se deel doen as straf.
Tonnie het altyd nog die storie vertel tot net voor sy dood in 2008
Toe ons daar ingetrek het dink ek Pikkie het net klaargemaak met skool. Ek was in die laerskool en het nie veel met my broers buite die plot gemeng nie. Daar was n soort van hieriargie tussen ons kinders. Jou ouer broers en susters was mense na wie jy moes luister of anders het hulle jou reggesien.
Alles natuurlik binne die toegelate gesag van ma en pa.
Ek dink dit was onmoontlik vir pa en ma om die gesag aleen te handhaaf en hulle het maar gedelegeer. As jy natuurlik rerig hand uitgeruk het, het ma jou bygekom. Ons het gou geleer om so hard as moontlik te skree as jy pak kry sodat ma dink jy het nou genoeg seer gekry en dan ophou om jou te voeter.
Ma was streng en het geen nonsies gevat nie. Partykeer is sy egter deur die witbroodjies om die bos gelei. As sy besluit het jy moet nou pak kry, kon jy maar verseker wees jy sal dit kry.
Ek het een dag die hele dag weggekruip sodat sy my nie moet sien nie in die hoop dat haar bui sal sak. Toe ek in die aand in ons kamer probeer insluip staan ma in die deur en sê dat ek gou my pak moet kom kry voor ek gaan bad en gaan slaap.
Ek het my pak gekry, gaan bad en voor ek in die bed klim het ma my eenkant toe gevat en n lekker gegee. Sy het altyd met ons reggemaak nadat sy ons gevoeter het. Sy het die gawe gehad om elke een van ons spesiaal te laat voel al was die huis vol kinders.
Soos ek genoem het het almal hulle take gehad in en om die huis. Die koeie moes gemelk word in die oggende en aande, die hoenders en varke moes kos gegee word. Die hokke moes skoongemaak word.
Binne die huis moes almal hulle kamers netjies gehou het. Dit was nogal moeilik want ons was drie in een kamer. Toe ek kleiner was het ek altyd by een van my boeties in dieselfde bed geslaap, maar op Bredell het ek my eie bed gehad in die kamer wat eintlik die eetkamer was. Tonnie en Babba was ook in die kamer.
Die huis het vyf slaapkamers gehad (insluitend nou die eetkamer). Net een badkamer as ek reg onthou. Daar was n sitkamer met deftige meubels en n kasradio en grammafoon waar niemand ooit gekom het nie.
Die sitkamer is net gebruik as die ouderling of dominee kom huisbesoek doen het.
Ons het in die kombuis geleef.
Dit was n massiewe vertrek met n groot tafel waarom ons almal altyd gesit het.Ons het daar huiswerk gedoen, ge-eet, gewerk en geleef. In die een hoek was die ou Esse stoof. n Koolstoof met n warmwaterstelsel vir die kombuis.
Daardie stoof het amper dag en nag gebrand. Die werkende kinders was al vroeg op en ma het vroegoggend al die kospakkies vir elkeen gemaak.
As die kinders uit die kamers strompel, het die stoof al gebrand en die ou koffieketel was gereed met vars kokende koffie om hulle te help om die dagtake te begin.
Daai koffieketel was altyd op die stoof. Ma het n sakkie van n meelsak gemaak en dit om n draad vasgewerk dat dit soos n sif werk en die sakkie binne die ketel is.. Die moerkoffie is dan in die sakkie gegooi en die ketel is dan vol water gemaak. Die ketel is dan op die warmplaat gesit om te kook en die koffie is gebrou.
Enige tyd as jy lus was vir koffie, het jy net geskink en weer water in die ketel gegooi vir die volgende persoon.
Sodra die koffie reg was, is die ketel na n kouer plaat op die stoof geskuif sodat dit net warm bly. Partykeer was daai koffie lekker sterk, veral as dit n redelike ou brousel was.
Daardie dae was voor televisie. Ons het radio geluister.(of Draadloos, soos die oumense dit genoem het). Ek het nog altyd gewonder of daar ooit n radio was met drade?
Hier teen sesuur was aandete gereed en almal het om die tafel gesit en eet. Ek dink ma het vir almal opgeskep anders sou van die vrate al die lekker kos vat. Pa kon net kookkos eet as gevolg van sy maag (maagsere ek dink) Ons het nie geweet wat n stuk steak is nie.
As ons dit ge-eet het was dit opgekook in n bredie. Groente het ons baie ge-eet. Ma het n groentetuin gehad wat enige Portugees jaloers sou maak. ( Daai jare kon mens net groente by n winkel koop wat deur n Portugees besit was. Daar was geen gevriesde groente of afdelingswinkels soos Checkers of Pick n Pay nie. As daar was wel was het ons nooit daar gaan koop nie).
Die groente was vars uit die grond en is dieselfde dag ge-eet. Dis seker hoekom ons almal nog so gesond is.
Ek sal later n storie vertel oor die groentetuin en my goue Landsdiens sertifikaat.
Na ete is daar take opgelê vir verskeie kinders. Die twee oudstes wat nog in die skool is moes die kombuis weer in orde kry. Die een was die skottelgoed en die ander een droog af en pak weg. Die verskillende take om dit te verrig is fyn uitgelê om te verseker dat die een nie meer as die ander een doen nie. Elke week is die twee hooftake omgeruil om regverdig te wees.
Die groot baklei het altyd gekom dat die wasser die tafel moet skoonmaak en afvee en die droogmaker (he he) die kombuis moet uitvee. Die wasser is dan spiteful en vee al die gemors van die tafel af op die vloer wat dan die droogmaker se werk meer maak. Baie gevegte is daar begin.
Ek kan onthou dat Sussie dit baie keer met my gedoen het. Kla by ma het nie gehelp nie want Sussie was altyd voorgetrek. Ek neem toe een keer wraak deur die besem tussen haar voete in te kry en dwars te draai terwyl sy van my af wegloop. Sy slaan soos n os vooroor neer met albei haar voete aan die besem gehaak.
Ma het my so geslaan dat ek dit vir dae nog gevoel het. Sjoe, ek dink dit is die kwaadste wat sy nog ooit vir my was.
Sussie het dit nooit weer gedoen nie. Die wraak was soet, al was dit seer. Vandag lag ons lekker daaroor.
Op n ander keer het ons weer oor iets baklei. Seuns was nooit toegelaat om meisies te slaan nie. Ek het haar geterg en geterg. Daardie tyd het al ons seuns geboks. Sussie haak toe af en slaan my op my neus dat dit bloei. Die fight was dadelik oor. Tot vandag toe is sy die enigste persoon ooit wat my bloedneus geslaan het. Daarna was ek maar versigtig vir haar want sy was maar altyd groter gebou as ek.
Ma het haar nie gestraf nie—Sien!!! ( Dit is my verhaal, ek kan dit skryf soos ek wil)
Al my ouer broers is uit die skool na standerd agt. Ek is die eerste wat matriek gemaak het. Ek het maar net weer skool toe gegaan na std agt. Met die reel dat die skoolgaande kinders nog in die huis moet werk, is my huiswerktermyn dus verleng met twee jaar.
Dis waarom Theo nog nooit geweet het van skottelgoed was of koeie melk nie. Al daai dinge wat goeie oefening is. Die familie het Brakpan dorp toe getrek net nadat ek uit matriek is. Goeie oefening hou jou maer. He he
Ander take wat ek kan onthou is om vroeg in die more op te staan en die koeie te gaan melk. Die vorige aand het ma al reeds die melkemmer en die doek reggesit. So deur die slaap trek jy net die nodigste klere aan- geen skoene nie anders moet jy dit weer skoonmaak voor jy skool toe gaan- en gaan na die stalle.
Daar moet jy eers die stal skoonmaak en al die beesmis uit die stal haal en op die mishoop gooi. Dan sit jy beesmeel in die krip vir die koei om te eet terwyl jy haar melk.
Met die spantou om die agterste bene en die riem om die nek kan die koei nie juis beweeg nie. Dan sit jy op die stoeltjie met die emmer tussen jou bene en begin te melk. Eers smeer jy tietsalf aan die spene sodat jou vingers lekker kan gly. Dan druk jy jou kop so in die koei se lies en plaas die emmer reg. Dan trek jy die twee tiete van bo af sodat die melk in n wit streep in die emmer spuit. Dit skuim sommer as jy nou lekker in die ritme inkom.. As jy dan dors raak mik jy n speen na jou oop mond en spuit dan gewoonlik die melk reg in jou oog totdat jy die hoek regkry en die melk uiteindelik in jou mond kry. Die varsste melk ooit!.
Partykeer wil die koei skeit terwyl jy haar melk. Jy moet daarop voorbedag wees en betyds opstaan ander spat die strond in die emmer. Dan verloor jy al die melk en almal moet met minder melk klaarkom. Klaar gemelk word die doek oor die emmer gegooi en die melk word in die huis gevat waar ma dit weer deur spesiale doeke gooi.
Die doeke is van leë mieliemeelsakke gemaak. Daardie tyd het mieliemeel in sakke wat van materiaal gemaak is, gekom. Die sakke is dan versigtig oopgesny en gekook in n koeksoda oplossing om die handelsnaam wat daarop gedruk is af te kry. Die doeke is dan vir allerhande dinge gebruik. Van voerings vir ons kortbroeke, wat ma self gemaak het, tot vadoeke en dan ook melkdoeke.
In die winter wanneer die ryp wit op die gras lê is die stalle een van die lekkerste warm plekke om te wees. Die hitte van die beeste deur die nag op die hooi hou die stal warm. Die probleem is dat jou voete yskoud is en moeilik warm word. As die koei dan skeit is jy baie bly want dan kan jy jou voete in die warm strond druk om jou tone te ontvries. Dit klink vreeslik maar is baie prakties. Jy spoel net jou voete met water af om dit weer skoon te kry.
Melktyd was in die oggende net na vyf en in die aande net voor donker. Daar moes altyd iemand wees om te melk anders word die koeie se uiers te vol en kry hulle allerhande siektes in die uier.
Na melktyd in die oggend moet groenvoer vir die beeste gesny word. Dit was gars en lusern wat ons self gekweek het. Lusern moet vars vir die beeste gesny word want as hulle dit eet as dit verlep is blaas hulle mae op en kan die bees doodgaan. Ek het al gesien dat pa n draad in n bees se pens steek om die maag af te blaas. Dit is natuurlik baie gevaarlik vir die bees maar red gewoonlik sy lewe.
Die groenvoer word met n sekel gesny en behoed jou siel as jy dit nie netjies afsny nie. Dan het pa rerig gemoan. In die begin sny n mens baie keer jou vingers raak met die sekel.
Daarna moet die varke en die hoenders gevoer word. Skoon water word in die hokke gesit.
Uiteindelik kan jy regmaak vir skool. Jy was gewoonlik net jou voete en trek dan aan. Intussen het ma al ontbyt gereed en almal eet soos hulle gaan.
Ek vertel al hierdie herrinneringe in geen volgorde nie. Dit kom maar soos dit kom.
Op Bredellse Laerskool was daar allerhande soorte sport aangebied. Natuurlik was rugby die belangrikste. Omdat ek so klein gebou was, ek was altyd die kleinste in die klas, kon ek net skrumskakel speel. Ons spannetjie in std vyf was kookwater en het al ons wedstryde in die streek gewen. Ek en twee ander outjies is gekies om vir Oos Transvaal se span te speel. Daar het ons weggeraak tussen die ander spanne soos Transvaal en Noord Transvaal.
Die skool was ook groot op gimnastiek en alhoewel ons nie n gimnastieksaal gehad het nie, is al die toerusting buite toe gedra en ons het geswaai, gespring en bollemakiesie geslaan dat dit n naarheid was. Hier het my kleingeid my baie gehelp teen kompetisie en ek het redelik goed gedoen.
Ek onthou nog goed dat ek een kleinpouse op die sagte gras langs die toilette, summersaults gedoen het. Hande voete vir so vyf keer op n slag. Met een afkomslag het ek nie ten volle gedraai in lug nie en land so skuins op my nek. Daar was nie pyn nie, maar ek kon nie asem kry nie.
Ek kruip op die grond rond om te probeer asem kry. Net toe ek dog ek gaan nou dood, slaan een van my vriende my met n moerse hou op die rug. Dit was die lekkerste asemteug wat ek nog ooit in my lewe gehad het.
Ek is tot vandag toe nog oortuig dat daai outjie my lewe gered het. Snaaks, my nek was nie eers seer nie. Maar waar hy my geslaan het was daar n kneusplek vir omtrent twee weke.
My beste vriend op Bredell was Chris van Rensburg of Hoender soos ons almal hom genoem het. Hy het rooierige hare gehad en sy gesig was vol sproete. Chris was Amanda van Pikkie se broer gewees en het tragies verongeluk later jare.
Chris en ek was onafskeidbaar en het by mekaar geboer. Ons het soos al die kinders daai tyd, bendes gestig. Nou net voor enigeen n hartaanval kry, die bendes was glad nie geweldadig soos vandag sin nie. Dink maar aan Trompie en die Boksembende. Ons het n geheime bendehuis gehad waar ons alle soorte rituele gehad het as iemand ons bende wil join. Ons het selfs ons eie geheime taal gehad wat ons geleer en gepraat het. Ons het defnitief meer tyd gespandeer om ons geheime taal te leer as wat ons gevat het om van ons vakke by die skool te leer.
Chris-hulle se plot agter was heeltemal onbewoon en was net vir die melkbeeste se weiding. Reg agter die stal het ons besluit om ons bendehuis onder die grond te maak. Met pikke en grawe grou ons in gat groot genoeg vir vier mense om in te sit. Die dak word met pale gestut en dan bedek met sinkplate. Grond is dan oor die sinkplate gegooi en gelyk gemaak. Daar was net n gat gelos vir ons om in en uit te klim. Die oortollige grond is met n kruiwa weggery en tussen die bome gegooi sodat niemand dit kan sien nie. Die dak is getoets deur n bees of twee daaroor te jaag. Alles was baie goed gedoen gewees.
Binne in die bendehuis het ons tafels en stoele gebou. Ook rakke vir al ons geheime geskrifte en notules van ons vergaderings. Daar was ook n paraffienstofie om koffie en kos te maak.
Voor ons vergaderings is daar natuurlik besluit wie wat gaan bring om te eet want sulke geheime dinge maak n mens mos vreeslik honger en dors. So elke nou en dan het ons ander lede ingelaat maar hulle was nooit volle bendelede nie. Ek dink die ou wat die naaste gekom het was Chris se broer Dries. Ek kan nie onthou of hy ooit in die bendehuis toegelaat was nie.
Ons was natuurlik lekker stout. Ek kan onthou dat Oom Tokkie (Chris se pa) se plot n ry hoë dennebome op die onderste grensdraad gehad het. Die bome het tot op die teerpad geloop. Die teerpad was die hoofpad deur die plotte. Die bome was baie na aan mekaar geplant en as n mens eers in die bome is kon jy die hele laning van een boom na die ander loop/klim.
Hier skuins na vyf in die aande het al die maplotters wat op die dorp gewerk het, met hulle motors huis toe gegaan. Chris en ek maak dan nat slap beesmis bymekaar en hys dit op n stuk plaat in die bome op. Ons beweeg dan nader aan die pad tot in die laaste boom. So twintig meter van die grond af.
Sodra ons n kar hoor aankom staan ons gereed en gooi dan van die beesmis na die pad se kant toe. Dink net die verbaasde motoris as dit skielik slap nat groen beesmis reën. Ons kan onmiddelik hoor as die kar stop en sit dan tjoepstil in die boom. Van onder kon hulle ons glad nie sien nie. Ons het dit vir omtrent n week gedoen totdat Oom Tokkie ons gevang het toe ons uit die bome klim.
Ander ding was om toiletpapier oor die pad te span in die aand. Onthou dat daar geen straatligte was nie. Skielik sien die motoris n wit streep in die pad hang waardeur hy moet ry. Baie tyres was rou gesleep soos hulle gebriek het. Na hulle gestop het en gesien het wat dit was het hulle gewoonlik net geskree dat dit nonsens was en dat ons gatte slae gaan kry. Ons het in die bome of bosse weggekruip waar hulle ons nooit sou kry nie.
Op die grondpaaie het ons n vuur op n stuk sinkplaat gemaak. Sodra ons n kar hoor of sien aankom sleep ons die vuur tot in die middel van die pad en trek die sinkplaat onder uit. Ons kruip dan weg op n goed beplande plek.
Die reaksies van die mense was baie snaaks gewees. Hulle stop eers en loop dan al om die vuur om dit van ale rigtings te beskou terwyl hulle die heeltyd mompel. Die volgende ding is om die omgewing te beskou. Party skree dan vir die stupid swartes wat nie weet waar om hulle donnerse vuur te maak nie. Ander skop die vuur uitmekaar uit en vloek. Ander weer begin net te lag en skree” julle laatjies gaan kak kry” of so iets.
Met al die dinge wat ons gedoen het was daar nooit enige persoon wat ooit polisie geskreeu of gegaan het nie.
Toe ons ouer raak het ons die gat van ons ondergrondse bendehuis verseel want ander dinge het ons aandag nodig gehad. Jare later was dit n groot gedoente toe n sinkgat reg agter die stalle by Oom Tokkie hulle inval.
Op skool was dit n tradisie vir die standerd vyfs om n afskeidskonsert vir die skool te organiseer. Dit was n grand affêre waarna al die ouers en die hele skool genooi was. Ons het vir weke geoefen en allerhande kostuums is deur die ouers gemaak volgens die aanwysings van die onderwysers. In een van die tonele was ek n kat gewees. Die toneel was uit Cinderella en net toe Cinderella die glaskoen wil aanpas, het die kat van die stiefdogters vir Cinderella onderstebo geloop en die glasskoen was flenters. Die arme prins het toe nie sy meisie in die verhaal gekry nie.
Daai toneel was so goed gedoen dat die hele skool en buurt vir weke nog daarvan gepraat het.
Chris het my gespot het en my “Katjie” begin noem. Daai naam het vir jare nog aan my gekleef. Veral Amanda se familie sal dit seker nog goed kan onthou want vir hulle was ek “Katjie” gewees en nie Willie nie.
In n ander toneel het ons n menslike piramide gebou met al die standerd vyfs. Natuurlik was ek heel bo want ek was die kleinste. Op die aand van die konsert was dit amper die enigste keer dat ek nie op my gat geval het as die piramide begin opbreek nie. Gelukkig was daar altyd iemand om op te val.
Net voor ek verder gaan moet ek julle vertel van ma se groentetuin en my goue landsdienssertikaat.
Ma het n massiewe groentetuin gehad. Enige groente waaraan jy kan dink is daar gegroei. Natuurlik met die seisoene was daar sekere groentes. Beet, wortels en ander ondergrondse groente met kool, blomkool en broccoli in die winter. In die somer was daar tamaties, brinjals,aartappels, patats, pampoen en nog meer.
Ma het altyd die plantjies gekoop van n outa wat omgekom het met n bos klein plantjies wat styf in koerantpapier toegedraai was. Die koerantpapier is dan afgerol en die plantjies is van die bol geskei en in die grond geplant. Sulke lang rye van ongeveer dertig meter van elkeen.
Party van die groentes is self geplant soos die aartappelmoere wat in n sakkie gekoop is by die ko-ooperasie. Wortels is direk in die rye gesaai en later uitgedun.
Die rye is natuurlik vooraf goed bewerk met n vurk en bemes van die mishoop van die beeskraal.. Daai grond was so vrugbaar dat n mens enigiets kon groei.
Vir die wintergroente is n bietjie kalk in die grond ingewerk en die kool, blomkool en ertjies het welig gestaan
Ons het van die groentetuin geleef. Dit was die lekkerste om in die tuin rond te loop en sommer n groenboontjie af te pluk om aan te kou. Of n handvol vars ertjies wat jy nou net uitgedop het.
Elke dag het ma groente gepluk of laat pluk vir wat sy die aand sou kook. Varser kon jy nie kry nie.
In die skole daardie tyd was daar n Landsdiensbeweging. Ek dink dit was gestig om kinders te leer om van dia land af te leef. Ons moes allerhande projekte onderneem waarvoor daar dan sertifikate aan die einde van die jaar uitgedeel word. Dit was n groot ding in die skool.
Omdat ek die meeste van die tyd vir ma in die tuin gehelp het, en geweet het hoe om n groentetuin te maak, het ek besluit om in te skryf vir n groentetuin.
Net so langs ma se tuin het ek die rou grond met n pik gebreek en al die bosse gras uitgehaal. Daarna moes ek dit met n vurk omspit so vurkdiepte. Die grond was baie hard en die grootte van my tuin het gekrimp in vergelyking met die moeiliksheidsgraad van my arbeid.
Uiteindelik was daar darem so stukkie grond waar ek my groente kon plant. Natuurlik glad nie op die skaal van ma se tuin nie. Maar my tuin het darem n hele paar groente gehad en dit het mooi gegroei.
So teen die einde van die jaar het die mense van die Landsdiens van erens af by die skole omgekom om die projekte te kom beoordeel. Ons kinders is agter in n bakkie gelaai en ons is van huis tot huis waar elkeen se poging beoordeel is. Die Landsdiensmense het met clipboards rondgeloop en afgetick so ver hulle loop. Daarna het hulle n onderhoud met jou gevoer waar jy hulle vertel het hoe jy dit gedoen het.
Party kinders het hulle vertel hoe hulle kalwers grootmaak. Ander het weer met hoenders geboer.( Dit was eintlik hulle ouers).
Toe kom die hele kavalkade daar op plot 308 aan. Omtrent drie of vier karre en die bakkie met al die kinders.
Ons ry onder die prieel in en die karre parkeer. Almal klim uit. Ma kom uit die huis in haar kerkklere om te groet want ek het haar gesê wat gaan gebeur.
Ons loop toe almal om die garage, onder die moerbeibome verby na die groentetuine.
Ek sweer tot vandag toe dat tot op hierdie stadium was ek nog gereed om vir hulle my eie groentetuin te wys.
Maar daar was ma se groentetuin in sy volle glorie. Groente wat hoog en welig staan. Boontjiestellasies van riet wat so toegegroei is van die boontjies dat jy nie die riete eers kan sien nie. Ertjies wat kniehoogte staan. Wortels se lower wat soos varings in n ry lyk. Koolkoppe wat soos soldate in n ry staan. Blomkole wat lyk asof daarop gesneeu is. Tamaties wat in rooi ryp trosse aan die stellasies hang.
Ek loop voor en die hoofbeoordeelaar reg agter my. Let wel dat ons so effens verby ma se groentetuin moet loop om by my tuintjie uit te kom. Toe ek omkyk sien ek die beoordeelaar het botstil gaan staan en met n oop mond na ma se groentetuin gestaar.
Ek kon amper sien hoe sy brein werk. Hy draai toe om na die ander beoordeelaars en die onderwysers met sy clipboard, en begin dinge af te tick. Almal was vreeslik opgewonde want daai tuin was pragtig.
Daar was nou absoluut geen manier dat ek enige punte sou kry as ek hulle nou my ou tuintjie wys nie.
Ek het hulle toe maar begaan. He he
Ek het al hulle vrae geantwoord want ek het in elk geval elke dag in ma se groentetuin gewerk. Ek het ook daarmee my gewete gesus.
Volgende dag op skool word daar spesiaal melding in die saal gemaak van die projekte van die kinders en veral die een projek wat kop en skouers bo al die ander uitgestaan het en hoe beindruk die beoordeelaars was.
Twee weke later word die sertifikate ontvang en voor die hele skool is ek die enigste persoon in die streek wat n spesiale sertifikaat kry vir my? Groentetuin. As daar daai tyd erekleure vir landsdiens was sou ek dit defnitief gekry het.
Tot vandag spot al my boeties en sussies my oor die ding.
Hulle kan maar spot, maar ek het baie geld uit my eie ou groentetuintjie gemaak deur die groente van deur tot deur aan die mense in die buurt te verkoop.