08/06/2009 09:01:51 PM - (SA)
Sedgefield. - As skoolkinders het hulle saam by die see gespeel, maar eers 70 jaar later het die liefde tussen hulle vlam gevat. En dié liefdesvlam brand hoog, want Saterdag trou mnr. William Benn van Sedgefield op sy 87ste verjaardag met mev. Joey van Heerden (80) van Dewetsdorp in die Vrystaat.
Van Heerden het gister hier aangekom vir Saterdag se groot geleentheid.
Volgens Benn het hy grootgeword in die Wildernis-omgewing naby George. Van Heerden se familie, die Rabbetse, het destyds uit die Kaap daar vakansie gehou. “Ons het saamgespeel, maar ek was destyds te onnosel om nog rond te kyk.” Sy was destyds 10 jaar oud en hy 17.
Hulle het daarna elkeen ’n eie koers ingeslaan en kontak verloor.
Benn is getroud en sy eggenote, Anna, is in 2001 oorlede ná ’n huwelik van 57 jaar. Die egpaar het 8 kinders gehad, 23 kleinkinders en 21 agterkleinkinders.
Van Heerden is ook getroud, met mnr. Pieter van Heerden, ’n sendeling. Hulle het drie kinders en sewe kleinkinders gehad.
Haar man is drie jaar gelede oorlede en hulle was 47 jaar getroud. Sy het nooit gedink sy sou weer trou nie, maar vyf maande gelede het alles verander.
Sy het vir haar seun in Oudtshoorn gaan kuier wat siek was. ’n Niggie, me. Rina Koen van George, het vir haar gesê sy moet sommer by Benn en sy suster me. Lettie Snyman ’n draai maak.
Benn het vertel dat toe sy huis toe is, kon hy nie ophou om aan haar te dink nie. Hy het gewonder of hy moes bel, maar toe bel sy.
Sy het vir hom gesê hy moet weer vir haar seun kom kuier. Benn het vir haar gesê sy moet kom, sodat hy haar hier kan hou. Sy wou weet wat hy bedoel, en hy het geantwoord hy wil met haar trou.
’n Week later het sy weer gebel en wou weet of hy ernstig was. Volgens Benn was dit liefde met die eerste oogopslag toe hy haar weer ná al die jare gesien het, maar hy het niks gesê nie. “Ek het haar eers ’n bietjie deurgekyk.”
Van Heerden het gesê dit het net gebeur. Sy glo dit is die wil van die Here.