Cilliers Family Web Site
     

Vansverandering van Cellier na Celliers, Cillié en Cilliers

 
Jan
Aug 23 2008 12:07

Die verandering van Josué Cellier se nageslag se van van Cellier na Celliers, Cillié en Cilliers kon nie aan 'n spesifieke tyd of geslag gekoppel word nie. Selfs op die dokumente wat vir Josué nagegaan is, word sy van benewens Cellier, ook as Celliers, Sellier, Selliers, Siljee, Silliers, Sollier en Zilie gespel.

Vir die volgende drie geslagte (b, c en d-geslagte) is die spelling van Josué se nasate se van legio, onder andere Celie, Celje, Cellie, Cellier, Celliers, Cielje, Cilie, Cilje, Cilli, Cillie, Cillier, Cilliers, Cillje, De Cilliers, De Silliers, Seliee, Seliers, Selje, Sellie, Sellier, Sielje, Silie, Silje, Siljee en Silliers.

Dit is eers vanaf die vierde geslag (e-geslag) dat die spellings Celliers, Cillié en Cilliers meerendeels gebruik is, maar van die voorgemelde variasies het steeds voorgekom. Daar kon ook nie altyd bepaal word watter spelling ‘n spesifieke persoon gebruik het nie omdat spelling dikwels van dokument tot dokument verskil en dit het tot in die 1900's nog voorgekom. Voorts was 'n bepaalde spelling ook nie altyd deur al die lede van 'n gesin en hul nageslag gebruik nie.

Cillié

Verskillende spellings, wat ook by voorname en familievanne voorkom, kan bes moontlik toegeskryf word aan die feit dat daar in daardie jare geen spelreëls was nie en elke amptenaar dít wat hy gehoor het, foneties neergeskryf het. Alhoewel die Cillié-spelling in die registers van verskeie gemeentes voorkom, is die vroeëre algemene gebruik daarvan opvallend plekgebonde. Die eerste persoon wat as `n Cillié gedoop is, was Charl Josua (b2c6d7) wat op 13 Mei 1781 as Sarel Joshua in die Paarl gedoop is en daarná word die Cillié-spelling algemeen in die Paarl gebruik.

In Malmesbury wat reeds sedert 1745 bestaan, is die Cillié-spelling eers algemeen vanaf 1823 gebruik en die volgende twee gemeentes waar hierdie spelling algemeen gebruik is, het albei van Malmesbury afgestig, naamlik Piketberg in 1833 en Riebeek-Wes in 1858. `n Ander opvallende fonetiese spelling wat in die Malmesbury-registers voorkom, is Johannes wat as Juannes gespel word en Johanna as Juanna.

Cilliers is die spelling wat die meeste teëgekom is.

 

Celliers en CIlliers

Die eerste afstammeling van Jan (b2) wat die Celliers spelling algemeen gebruik het, was Jacob Daniel (b2c1d1e1f4) en daarna sy nageslag, maar Jacob Daniel se twee broers en hul nageslag het weer hul van as Cilliers gespel. Onder die nageslagte wat die Kaap-Kolonie verlaat het, wil dit voorkom asof die Celliers-spelling algemeen in die Lichtenburg- en Vryburg-omgewings gebruik is terwyl die Cilliers-spelling weer in die Groot Marico-omgewing asook in die Oranje Vystaat en Natal gebruik is. By Abraham (b7) se afstammelinge wat in die Kaap-Kolonie gebly het, is die Celliers-spelling net by enkele lede van 'n gesin teëgekom, maar hierdie spelling is dikwels nie behou nie.

Hoewel die Cillié-spelling wel op dokumente van Abraham (b7) se afstammelinge voorkom, is die spelling nie behou nie. Hierdie spelling is slegs deur sommige van Jan (b2) se afstammelinge behou. Die eerste afstammeling van Jan (b2) waar hierdie spelling algemeen deur 'n gesin gebruik is, is by sommige van die kinders van Petrus (b2c1d2), maar selfs hier wissel die spelling op dokumente vir dieselfde persoon nog tussen Celliers, Cillié, Cilliers asook sommige van die voorgemelde variasies. Sover vasgestel kon word, is sy seun Petrus Johannes (b2c1d2e2) se nageslag die enigste wat die Cillié spelling behou het terwyl sy seun Johannes Arnoldus (b2c1d2e6) se nageslag hul van as Celliers, Cillié en Cilliers spel.

(Met dank aan Mariana Olivier)


 

 

Contact Jan
Print this page
About us | Our blog | Privacy | Terms | Last names | Tell a friend | Site map | Forums | Help
English